Riglyne Rondom Gesond Eet #12
Baie mense se eerste gedagte wanneer hulle vitamien E hoor is dat dit die vel en hare vitamien is. Vitamien E is wel nie slegs belangrik vir die gesondheid van ons vel en hare nie. Dit help ook ons sig, voortplanting stelsel, bloed gesondheid, immuunstelsel en brein. Vitamien E is ‘n kragtige anti-oksidant en word baie keer bemark vir sy rol in die stryd teen veroudering.
Vitamien E is nog een van die vet oplosbare vitamiene, en ons het nou al geleer dit beteken dat die liggaam die vitamien stoor en ook dus op kan oordoseer. Goeie bronne van vitamien E is plant olies, soos sonneblom- en olyfolie, neute, sade, koringkiem (dus vol graan) asook baie groente, vrugte, vleis en veral vis – dit kom volop voor.
Vitamien E aanvullings kan gewoonlik gevind word in die vorm van geel gel kapsules, maar ‘n gesonde dieet behoort al die Vitamien E te bevat wat die liggaam benodig.
Nota: Hierdie “Riglyne Rondom Gesond Eet”-reeks het ek beplan om kort maklik-verteerbare brokkies inligting te wees wat dalk selfs met ouer kinders gedeel kan word (dis hoe ek my kinders leer). Indien jy egter wel bietjie meer inligting rondom ‘n onderwerp wil hê, asb laat weet my, dan kyk ek hoe ek dit kan inwerk of jou vraag kan beantwoord.