Blog Nuusbrief
Mart-Mari Breedt  

Die Persoon Wie Jy Nog Nie Ontmoet Het Nie

Gewoonlik twee keer ‘n jaar bied MCM ‘n couch-to-5k-program aan. Die idee is eenvoudig, maar bemagtigend: kry iemand van die bank af en aan die hardloop, hopelik so ver as 5 km, in agt weke.

Die laaste program vir vanjaar het onlangs afgeskop en die van ons teenwoordig by ons weeklikse baansessie het van die nuwe mense ontmoet op hulle eerste Saterdag van die program. Daardie oggend was een van die vrouens vroeg daar. Sy wou nie alleen loop nie; ek het toe aangebied om saam met haar te stap. Aanvanklik het ek te vinnig geloop, maar ek kon darem redelik vinnig by haar pas inval. Ek het al vergeet hoe dit is om nuut te wees!

Ons het gesels terwyl ons geloop het. Vir my was dit heerlik om vir ‘n verandering die opwarmroete te stap. Vir haar — nuut, onfiks, en gereeld uitasem — was dit ‘n groot uitdaging.

Ongeveer halfpad het ek vir ‘n oomblik na haar gekyk en skielik besef: Agt jaar gelede was dit ék gewees.

Tóé kon ek beswaarlik 30 minute loop sonder om te stop. Om te hardloop het onmoontlik gevoel. Ek het sowat 130 kg geweeg toe ek begin het, en ek moes alles van meet af leer — eers stap, en, heelwat later, hardloop.

Daardie herinnering het my nogal diep getref. Ek voel gereeld asof ek geen vordering maak nie, maar om só terug te kyk het my laat besef hoe ver ek eintlik al gekom het. Ek is nie meer naastenby die persoon wat ek agt jaar gelede was nie. Geensins nie. Die dae is lank en moeilik, maar die jare is kort — en verandering gebeur in daardie stil, maar bestendige tree.

Die waarheid is: wie jy vandag is, is nie wie jy altyd hoef te wees nie.

’n Vriendin wat tans haar huis oppak, het onlangs ’n notaboekie van haar skooldae gekry. Dit was vol aanhalings en gedagtes wat haar jonger self neergeskryf het. Sy onthou sy was die een wat dit geskryf het, maar toe sy dit nou weer lees, kon sy nie anders as om te vra nie: “Wie is jy, meisiekind?”

Miskien is dit die punt van die lewe. Ons jonger self het ons tot hier gebring, maar ons is veronderstel om só te groei dat ons later daardie jonger self skaars kan herken. En alhoewel dit normaal is om terug te kyk en verandering te sien, is dit ’n geskenk om te weet dat dit in die regte rigting was. Is dit nie wat ons almal wil hê nie?

Moet nooit bekommerd wees oor hoe lank iets gaan neem om te bereik nie; die tyd gaan in elk geval verby. Die eintlike kwelling is:

Verandering en tyd wat verby snel is onvermydelik. Is jy besig om in die regte rigting te groei, sodat jy eendag die persoon kan word wat jy hoop om te wees?

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>