Die lewe is vir die wat lewe
Ek het nou al ‘n paar mense na aan my verloor. Iets wat my nog altyd opgeval het wanneer iemand doodgaan is hoe vreemd die tyd raak. Dis asof jy in jou eie borrel vasgevang is terwyl die res van die wêreld steeds voort skarrel, selfs al voel jy soms die drang om te skree: “Hoor hier, mense, staan net vir eers ‘n rukkie stil terwyl ek myself probeer uitpluis.”
‘n Vriendin het baie jare gelede vir my gesê dat ek moet onthou: die lewe is vir die wat lewe. Dis waar. Die lewe gaan nie tot stilstand kom net sodat ons ons voete weer kan vind nie.
Soms is ek vies. Soms is vies dat ek nie aangemoedig is om aan sport deel te neem toe ek jonk was nie. Soms is ek vies dat die voorbeelde wat ek ontvang het toe ek grootgeword het nie van gesond eet en aktief wees was nie. Soms is ek vies dat ek nou eers hierdie dinge moet uitpluis – in my veertigs! En nie net vir myself om sin van te maak nie, ek moet ook my kinders se voorbeeld wees en hulle reg leer sodat hulle nie óók eendag hiermee gaan sukkel nie.
Ons het onlangs ‘n splinternuwe kollega in ons klein werkspan verwelkom, die eerste keer ooit waarvan ek kan onthou – en ek werk nou al sewe jaar by hierdie maatskappy – wat ons iemand só groen moet touwys moet maak. Normaalweg is die nuwe toevoegings tot ons span iemand wat darem al die omgewing ‘n bietjie gewoond is. Vandag is sy al ‘n maand al by ons en die afgelope maand hou ek dop hoe die werk om haar vloei, en sy maar net moet swem. Kyk, sy vra vrae en ons almal spring en help hoe en waar ons kan, maar die rivier van werk hou nie op net sodat sy eers haar voete kan vind nie.
Die lewe is vir die wat lewe.
Die werksplek is daar vir die wat die werk kan doen.
‘n Gesonde leefstyl is daar vir die wat bereid is om ondersoek te doen na wat vir hulle werk en die tyd en moeite in te sit om dít te maak werk.
Eendag gaan my nuwe kollega ‘n ekspert wees en nie nodig hê om die hele tyd vrae te vra nie. Dieselfde is seker waar vir my ook in my soeke na ‘n gesonde gebalanseerde leefstyl. Intussen swem ek ook maar in die diep kant, vra vrae, probeer dinge uitpluis oor wat reg vir my werk, en bly die hele tyd aanpas.