Jy mag dalk al die storie van hoe ek begin hardloop het in my eerste boek gelees het. Indien wel, verskoon my asseblief dat ek dit weer kortliks vertel.

Toe ek in 2017 met Weigh-Less begin het, het ek 165 kg geweeg. Ek het nie op dieselfde tyd ook begin oefen nie. Ek het gevoel dis net te veel om alles so meteens baas te raak. Ek was alreeds besig om my eetgewoontes te probeer verander, en die gedagte daaraan om nog oefensessies ook aan te pak — en dit terwyl ek 165 kg weeg — het vir my onmoontlik gevoel.

Dit was eers teen die einde van daardie eerste jaar dat ek begin stap het met die doel om daarvan ’n oefensessie te maak.

Aanvanklik was my enigste doel om ’n paar Discovery Vitality-punte te verdien. Dit klink belaglik nou, maar dit het gewerk. Ek moes lank genoeg en teen ’n hoë genoeg hartklop oefen om daardie punte te verdien. So dis wat ek gedoen het. Ek het hard genoeg gestap om die punte te verdien. En ek het net bly stap.

Mettertyd, amper ’n jaar later, het ek by ’n punt uitgekom waar stap alleen nie meer voldoende was nie. Ek kon eenvoudig nie meer my hartklop hoog genoeg kry om die punte te verdien nie.

So toe begin ek maar hardloop. Eers die afdraandes. En toe dit ook nie meer voldoende was nie, die opdraandes. Aan die begin kon ek nie ’n hele bult uithardloop nie. Ek sou ’n stukkie hardloop, dan loop, en dan weer ’n stukkie hardloop. So het die stukkies hardloop langer geraak, en eendag kon ek die hele bult uithardloop.

As ek nou terugkyk, dink ek tog daar was iets wys daaraan om vir daardie lawwe punte te werk.

Dit was net moeilik genoeg om my aan die beweeg te kry, maar nie so moeilik dat ek dit nie kon bereik nie.

Maar wat het my nou weer hieraan laat dink?

’n Paar maande gelede het Discovery met hulle slaapprogram begin. Dis losweg geskoei op dieselfde idee as hulle oefenprogram: jou slimhorlosie teken jou slaap aan, jy kry die volgende oggend ’n punt daarvoor, en jy het ’n doelwit om na te werk. Bereik jou doelwit vir die week en jy kan ’n beloning kies.

Op papier behoort hierdie program my te pas, maar dit frustreer my ongelooflik. Veral hierdie week en ’n bietjie, terwyl ek siek was.

Die probleem is dat so baie van wat daardie punt bepaal, buite my beheer voel:
Wanneer ek uiteindelik aan die slaap raak.
Hoeveel REM-slaap ek kry.
Hoeveel diep slaap ek kry.

En dan word die doelwit elke week ’n bietjie aangepas. Selfs wanneer ek nie die vorige week se doelwit gehaal het nie.

Vir my is die ergste egter daardie dae wat ek ’n bietjie kan inslaap — soos op ’n rusdag of openbare vakansiedag. Ek kan dalk 8½ ure slaap, en dan word my slaapduur steeds as Needs improvement gemerk. Dit moet tussen 7 en 8 ure wees.

Ek het teen die tyd nou maar opgegee met die program. Maar alhoewel hierdie nuusbrief nie bedoel is as ’n klagte oor die program nie, en my man al vir my gesê het ek moet die simpel ding net ignoreer, het dit my tog aan die dink gesit.

Want sien, dit het my laat besef dat dieselfde konsep wat ongelooflik bemoedigend kan wees, ook ongelooflik ontmoedigend kan wees wanneer die doelwit onrealisties is en die puntetoekenning buite jou beheer voel.

Die oefenprogram het vir my gewerk omdat daardie simpel klein doelwit my ontmoet het waar ek was: swaar en moeg, maar heeltemal in staat om teen ’n bult af te stap. En deur die jare het die doelwit saam met my verander.

Die slaapprogram misluk, ten minste vanuit my oogpunt, omdat dit elke aand ’n foutlose vertoning van my liggaam verwag — ’n liggaam waaroor ek nie altyd interne beheer het nie. Dit gee nie om of ek ’n natuurlik rustelose slaper is nie, ook nie as my liggaam op die oomblik net sy bes probeer om ’n virus te beveg nie. Daar is geen erkenning vir die feit dat ek elke aand betyds in die bed is, al raak ek nie dadelik aan die slaap nie, maar nogtans so goed moontlik probeer rus nie.

Om te groei verg moeite, ja, maar dit moet jou darem ook nie hopeloos laat voel nie.

So, indien jy tans besig is om jouself teen een of ander onmoontlike doelwit te meet wat te veel van jou verwag, gee jouself ’n blaaskans.

Soms is die beste ding wat jy vir jou langtermynsukses kan doen, om die rigiede teikens te los en eerder ’n doelwit te kies wat bereid is om jou te ontmoet waar jy tans is.