Verlede week het ek iets tydens een van my hardloopsessies gedoen wat ek nie gewoonlik doen nie.
Ek en ’n vriend het gereël om saam te gaan hardloop en agterna koffie te gaan drink. (Baie keer dink ek die enigste rede waarom ons eintlik hardloop, is vir die koffie agterna.)
Omdat ons teen baie verskillende tempo’s hardloop, is ons reëling gewoonlik dat ons dieselfde roete in teenoorgestelde rigtings hardloop. Op daardie manier sien ons mekaar darem ’n paar keer in die verbygaan, maar ek hou hom nie terug nie.
Maar verlede week het my vriend soveel vroeër as ek begin hardloop. En aangesien hy soveel vinniger as ek hardloop, was hy vanselfsprekend lank voor my klaar. Trouens, ek was skaars deur die helfte van my sessie toe hy klaar was.
Hy bied toe aan om saam met my te hardloop.
Maar jy moet verstaan: sy hardloop saam met my beteken basies dat hy loop. En hy kan verskriklik vinnig loop. Ek kan skaars byhou, selfs al hardloop ek.
Ná ’n paar honderd meter het ek hom gestop.
“Luister. Ek is lief vir jou, maar ek kan nie verder hiermee voortgaan nie. Geluk met jou sessie vanoggend, en dankie dat jy saam met my hardloop, maar asseblief, gaan eerder huis toe. Ek kan nie dat jy langs my loop terwyl ek sukkel om by te bly nie. Dit laat my soos só ’n groot mislukking voel.”
Ek het so sleg gevoel daaroor om dit te sê, maar ek moes. Ek kon eenvoudig nie so voortgaan nie.
Dankie tog het hy verstaan en wel teruggedraai. Maar hy het vir my gewag om klaar te hardloop en gebly vir koffie — wat ’n lekker verrassing was.
Hy het ook ’n boodskap vir my gestuur:
“Die laaste ding wat ek ooit wil doen, is om jou op enige manier sleg te laat voel. Ek is bly jy het iets gesê; vriende moet met mekaar kan praat. Dis die enigste manier waarop ons gaan weet wat die ander persoon dink of hoe die ander persoon voel.”
In sommige opsigte onthou ek daardie oggend as die oggend toe dit my soos ’n mislukking laat voel het om by my vriend te probeer byhou.
Ek onthou ook dat ek sleg gevoel het omdat ek hom gevra het om te stop, en dit terwyl sy bedoelings niks anders as goed was nie.
Maar miskien die belangrikste van alles, onthou ek dit as die dag waarop ek ontdek het dat ek heeltemal eerlik en kwesbaar kon wees oor hoe ek voel, en dat dit met goedheid en vriendelikheid ontvang sou word.
Ek hoef nie voor te gee asof ek fine was nie.
Ek hoef nie deur te druk met iets wat nie vir my goed gevoel het nie.
Ek hoef nie te bekommer dat om reguit te wees, ons vriendskap sou seermaak nie. (Al het ek wel ’n bietjie daaroor bekommer.)
Hy het eenvoudig geluister, verstaan en my vriend gebly.
En dit het my laat besef dat ek die beste vriend ooit het.
En daarvoor is ek so dankbaar.
Ek hoop dat daar in jou wêreld ook vriende is wat jou kwesbaarheid met goedheid sal ontvang. En ek hoop ook dat jy die moed het om reguit te praat — selfs al is jy soms ’n bietjie bang oor wat gaan gebeur wanneer jy dit doen.
