Die afgelope twee weke was ’n wipplankrit van emosies.

Eerstens is ek vreeslik trots op my seun en al die pryse wat hy by sy Graad 12-prysuitdeling ontvang het. Hy het onder andere die Sportseun van die Jaar en Matrikulant van die Jaar-trofeë gewen. Dis groot pryse daardie. Ek kan nie verduidelik hoe trots dit my as mamma maak nie. Dis daardie gevoel dat ek darem iewers iets reg gedoen het, al het ek ook heelwat verkeerd gedoen oor die afgelope amper 19 jaar.

En toe hardloop ek my beste 5 km-tyd sedert Oktober verlede jaar. Ek is daaroor ook baie trots. Ek werk vreeslik hard aan my hardloop. Ja, ek weet ek werk nie harder as enigiemand anders daar buite nie, maar ek sit werklik moeite in, en dis lekker as iets so nou en dan darem ’n bietjie goed uitwerk. Ek het volgende week nog ’n tydtoets op my program. Dalk kan ek dan selfs nog verder verbeter.

So, daar is baie om te vier, nè?

As dit nie was vir al die dinge wat tussendeur nie so goed gegaan het nie.

My jongste se hart is gebreek omdat sy nie as prefek vir volgende jaar gekies is nie. Ek weet dit sal dalk eendag nie eens meer iets wees wat sy onthou nie, maar in haar wêreld is dit nou nogal ’n groot ding om te verwerk. En dit maak my hartseer omdat sy hartseer is. Ek glo werklik sy sou ’n goeie prefek gemaak het. Sy werk hard op skool, neem aan soveel moontlik aktiwiteite deel en presteer in dit waaraan sy wel deelneem. Maar soms werk dinge net nie uit soos ons graag wil hê dit moet nie. Ek hoop sy kan hieruit iets oor veerkragtigheid leer en anderkant sterker as voorheen uitkom.

En dan is daar ek.

Ná my goeie tydtoets het ek gewag, en bly wag, vir ’n boodskap van iemand wie se opinie vir my baie saak maak. En toe daar nooit ’n boodskap kom nie, het dit die hele prestasie oorskadu.

Wat flippen laf is, nè? Ek het ’n tyd gehardloop waarop ek werklik trots is. Niemand kan dit van my af wegneem nie. En tog het die gebrek aan erkenning van een spesifieke persoon van die vreugde daaruit gesteel.

Ek wens sulke goed kon soos water van ’n eend se rug afrol, maar dit werk toe nie heeltemal so nie.

So hier is ek nou, met ’n oudste wie se prestasies my hart van trots laat bars, ’n jongste wie se teleurstelling my hart wil breek, en ’n hardloopprestasie wat nie heeltemal so lekker voel soos dit behoort nie, omdat dit nie in gedeel was soos ek gehoop het dit sou wees nie.

Die lewe is darem maar vreemd.

Dinge kan so goed gaan, en tog kan ’n mens aan die einde van die dag steeds teleurgesteld wees. ’n Mens kan gelukkig wees oor een ding en hartseer oor iets anders. En om te weet dat iets nie soveel behoort saak te maak as wat dit wel saak maak nie, verander nie hoe jy daaroor voel nie.

Ek het nie ’n les om hierdie keer in my nuusbrief te deel nie. Geen netjiese slotsom of inspirerende gedagte om mee af te sluit nie.

Ek veronderstel dis maar die lewe.

En soms is dit net simpel.