Oop en eerlik
Wil jy jou huwelik red? Hê ‘n oop en eerlike gesprek met jou man of vrou.
Wil jy gehoor word? Wees oop en eerlik.
Oop en eerlik. Dis amper asof dit as antwoord verskaf word op elke verhoudings krisis.
Om oop en eerlik te wees is vir my soos om iemand in jou huis, jou leef spasie, in te nooi, maar sonder om eers skoon te maak, reg of weg te pak. Dis anders as om net jouself te wees, want jouself kom gewoonlik met grimering. Oop en eerlik is weerloos.
En dis moeilik, want ons almal wil maar skoon- en netjies maak voordat ons gaste oornooi. Ons almal wil graag ‘n goeie indruk skep en is bekommerd oor die opgehoopte skottelgoed en kitch of eksplisiete dekor wat orals rondstaan. Baie mense dink hulle is oop en eerlik, maar hou die item wat hulle werklik pla agter hulle rug vas en steek dit vinnig in ‘n kas weg wanneer hulle gaan koffie maak.
Die week kry ek ‘n boodskap wat die vrou kies om so te eindig: “Ek verstaan jou sussie se selfdood volkome. (Terloops) Jy noem dit nie selfmoord nie, maar selfdood. BAIE Liefde.”
Soos wat ek hierdie tik verskyn die rooi wurmpie van my Afrikaanse spelling kontroleerder onder die woord selfdood; ek krap opnuut weer my kop. Behalwe dat ek twyfel of enigeen werklik iemand anders se selfmoord kan verstaan, is hierdie nou vir my amper soos ‘n gas wat iets raakgesien het in my leefarea wat haar nie geval nie, en met die woorde, “Liefie, eintlik vertoon ons nie sulke goed nie,” die item self in ‘n kas probeer indruk.
Wikipedia sê, “Selfmoord is die handeling of daad om jouself om die lewe te bring, dus om jou eie lewe te neem. Die term selfdood word deesdae al hoe meer verkies weens die stigma wat aan die woord “moord” kleef.”
Stigma.
Dit is wat dalk verhoed dat ons werklik oop en eerlik kan wees, want te veel van ons bekommer ons oor die stigma wat aan goed kleef. Wat sal mense tog nou dink? Dis die stof en vet wat taai geword het en maak dat ons sekere items sommer heel agter in ‘n kas wil gaan bêre, al het ons eintlik so nodig om dit buite te vertoon sodat dit ‘n gesprekspunt kan word.
Ek wonder oor die behoefte daaraan om dinge beter te laat vertoon as wat dit is. Ja, kom ons gebruik eerder woorde soos selfdood, want daar kleef stigma aan moord – en dis maar een voorbeeld van hoe ons kan aanstoot gee. Is dit werklik wat ons moet doen, selfs al wys ons Afrikaanse spelling kontroleerders dit is ‘n fout? Dalk ‘n fout, maar darem polities korrek – dit laat meer mense gemaklik voel.
Ek wonder oor die konstante besorgdheid wat daar blykbaar behoort te wees oor hoe jy as mens oorkom aan ander. Want hoe jy oorkom maak saak, nie waar nie?
En ek wonder hoe hierdie besorgdheid ons verhinder om oop en eerlik te kan wees in ons omgang met ander.
Dan moet mense maar nie van my hou nie, of ek moet maar swak oorkom. Ek is nie baie lief vir skoonmaak, regpak, voorgee óf versag nie.