
Wanneer Alles Belangrik Is
Skaars voet by die deur in nou die dag, hoor ek hoe my man en jongste seun besig is om te gesels. Hulle was besig om ‘n rekenaarspeletjie te bespreek, toe ek hierdie sin — natuurlik heeltemal uit konteks uit — vang: “Wanneer alles belangrik is, dan is niks belangrik nie.”
Nogal ‘n openbaring en ‘n half vir ‘n dertien-jarige, het ek gedink. Maar, hierdie is dieselfde kind wat ‘n paar jaar gelede, die “We’re proudly cashless”-bordjie by ‘n vakansieoord intens bestudeer het en toe gevra het: “Is dit nou een of ander manier vir hulle om te sê dat hulle arm is?” Ek het dus al geleer om sulke helder oomblikke van hom te verwag.
Steeds het die sin by my vasgesteek, en ek het gedink dis die moeite werd om hierdie week se brief daaraan te wy. Want ek dink ons almal kan soms daaraan herinner word: Wanneer alles belangrik is, dan is niks belangrik nie.”
Hoe maklik vergeet ons dit nie in ons daaglikse geskarrel om kop bo water te hou, almal te probeer tevrede stel, en alles gedoen te kry nie. Ek wonder dikwels hoeveel van ons konstante besigwees spruit uit daardie alles-of-niks-denkwyse wat fluister: As ek nie alles regkry en al die blokkies nou dadelik kan afmerk nie, het ek gefaal.
Ek het al agtergekom dat wanneer ek voel ek vorder net nie, die antwoord nie altyd lê in om nóg meer te doen nie. Soms is die beste ding om doelbewus minder te doen — om een of twee dinge te kies en vir ‘n ruk dáárop te fokus. Dis soos ‘n terugkeer na grondbeginsels toe, of dalk eerder ‘n stille terugkeer na dit wat werklik saak maak.
Nie alles kan ewe veel beteken nie. Party dinge moet maar hul beurt afwag. Want as jy nie kan prioritiseer nie, lei dit uiteindelik tot oorweldiging, uitbranding en moedeloosheid.
Ek het jare gelede ‘n besigheidsontleder-kollega gehad wat daarop aangedring het dat die woord prioriteite nie bestaan nie. Volgens haar kan daar net één prioriteit wees — dat die selfstandige naamwoord eintlik nie ‘n meervoud het nie. Ek het gereeld gevoel dat om die één prioriteit te kies darem maar so bietjie onredelik was, maar dalk het sy tog ‘n punt gehad.
Ek veronderstel die belangrikste vraag is dan seker:
Wat is die een ding waarop jy volgende moet fokus?
#Leefstadig #DinkDieper #AfrikaanseSkrywer #Stilstaan #BewustelikLeef #WoordeMetWysheid #LeefMetBetekenis #AfrikaanseGedagtes