Die beste is nog op pad
My jongste het gisteraand by ‘n maatjie oorgeslaap. Haar maatjie se mamma het foto’s aangestuur van die feestelikhede en ek het vir ‘n hele rukkie na die glimlaggende graad 3 gesiggies in gedagte gestaar.
Hulle lewenspaaie is nou al vir ‘n paar jaar al verweef – van babasentrum tye, na voorskool en later laerskool. Daar was heelwat geleenthede gedurende hierdie jare vir nuwe dinge begin en bang wees. Voorskool toe gaan. Laerskool toe gaan. Eerste keer ‘n toespraak voordra. Eerste keer gaan oorslaap. Nietemin – hier is hulle nou: glimlaggende gesiggies op my foon.
En hierdie is maar net die begin… Die beste van hulle lewens lê nog voor hulle.
Ek is nie iemand wat lief is vir verandering nie. Noem my maar ‘n creature of habit. Tog, as ek terugdink na oomblikke in my lewe wat ek sal beskryf as ‘van die beste’ of ‘die beste besluite wat ek al ooit geneem het’, dan was al hierdie oomblikke en besluite die resultaat van treë uit my gemaksone uit neem en goed wat ek bang was om te doen.
Van hierdie kanse vat het aanvanklik nie uitgewerk soos wat ek beplan het nie. Ek onthou byvoorbeeld ek het op ‘n stadium by ‘n nuwe plek begin werk en die eerste week die aande omgehuil omdat ek nie gelukkig was nie. Ek het op die ou einde amper agt jaar daar gewerk en vriende gemaak wat ek nou nog as my beste vriende sal beskryf!
Daar was natuurlik ook dinge wat ek probeer het wat gefaal het. Maar selfs daardeur het ek geleer en my mislukkings en foute het my sterker aan die ander kant uitgespoeg.
Ek wens so ek kan teruggaan in tyd, my sussie se skouers neem, haar in die oë kyk en vir haar sê: “Die beste is nog op pad. Hou moed!” Maar ek kan nie. Sy wou nie wag vir dit wat nog moet kom nie.
Ek sê dit dan nou maar vandag vir jou, “Jy dink dalk dit gaan op die oomblik baie goed of besonderlik sleg. Hoe dit ook al sy, die beste ís nog op pad.”
Wat ‘n wonderlike gedagte is dit nie?