Droom
Blog
Mart-Mari Breedt  

Droom

Ek vind drome fassinerend. Veral die wat ek nog so duidelik die volgende oggend kan onthou. Sulke drome laat my met iets om oor te mediteer die oggend wanneer ek gaan draf en iets om uit te pluis oor baie dae daarna. Ek hou van dink en rasionaliseer – so dit val so reg in my kraal.

Die vreemdste droom het gisteraand in my onderbewuste afgespeel. Toe ek vanoggend wakker word toe sê ek vir my man dat ek onseker is of ek wel enigsins geslaap het. My droom het vir my so werklik gevoel dat dit vir my gevoel het asof ek wakker was.

Ek het gedroom dat ek in ‘n koshuis kamer intrek – eintlik was dit nie ‘n kamer nie. Dit was meer soos ‘n massiewe groot saal. Binne-in die saal was daar vreeslik baie meubels: beddens, losstaande hangkaste, lessenaars en spieëltafels. Al die meubels was geverf in verskillende kleure en afgewerk om te lyk asof dit baie oud was. Die meubels was ook in ‘n ou styl en meestal van hout. Die saal het houtvloere gehad, met groot los tapyte op plekke en was op die eerste verdieping. Die beddens het almal verskillende beddegoed op gehad. Alhoewel dit weelderig en stylvol gevoel het, was dit ‘n deurmekaarspul van kleure en style. Daar was honderde ander vrouens wat ook besig was om daar in te trek. Die grondvloer was ‘n soortgelyke saal, behalwe dat die koshuis se eetkamer deel was van die grondvloer saal. Die slaap eenhede was wel nie apart nie – alles was oopplan.

Ek het nie baie bagasie gehad nie, net ‘n paar goedjies wat vir my belangrik was: my beursie, ‘n paar stukkies juwele en een tas met klere. In die verste hoek van die saal op die eerste verdieping het ek ‘n bed, spieëltafel en lessenaar gesien wat ek gedink het vir my sal werk. Ek het my bagasie daar neergesit en begin uitpak, toe my man my kom roep het. Hy het hulp nodig gehad wat vereis het dat ek na sy plek moes gaan, wat vêr weg was van hierdie koshuis af. Ek het my goed net daar gelos en hom gaan help.

Later daardie aand, so teen 23h00, kon ek eers terugkeer na my bagasie en verder uitpak net om te ontdek dat my goed nie meer daar was nie. Iemand anders wou in daardie hoek intrek en het my goed geskuif. Ek moes my goed soek in die deurmekaarspul, maar het dit wel gekry, maar ek moes na die grondvloer beweeg omdat daar nie meer oop beddens was op die eerste vloer nie.

Op die grondvloer was die enigste oop plekkie regoor die groot eetkamertafel. Dit was nie ‘n baie private area nie, nie dat die ander slaap areas meer privaat was nie, maar die area sou baie voet verkeer kry. Dit was egter die enigste oop area wat nog beskikbaar was. Daar was ‘n groot mat waarvan ‘n deel opgerol was sodat die mat nie in die eet area sou wees nie. Ek het amper oor die opgerolde deel mat geval terwyl ek na die laaste beskikbare bed gestap het. Dit was al baie laat in die aand, maar daar was ‘n hele groep oumense wat besig was met ‘n passievolle vergadering om die eetkamertafel.

En toe word ek wakker…

Ek dink die droom het iets te doen daarmee om my plekkie in die lewe te probeer vind, maar ek pluis hom nog uit.

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>