Seer
Waarom moet mens seer kry? Is dit om aan jouself te bewys dat jy wel nog lewe? Dalk om jou nederig en op jou knieë te hou?
“Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me.”
O, maar hulle doen! Hulle maak baie seer. Die woorde maak seer. Die tyd wanneer dit gesê word maak seer. Die persone wat dit sê maak seer. Die plek waar dit gesê word maak seer. Dit wat nie gesê was nie maak seer. Dit wat nie gedoen was nie maak seer. My oordink en analiseer van wat alles vooraf moes gebeur het en wat wel gebeur het maak seer. Die hele situasie is ‘n amalgamasie van goed wat seer maak.
Ek gaan honderde kere deur my aksies. Wat het ek verkeerd gedoen? Kritiseer ek myself te veel? Kritiseer ek myself te min? Het ek die verkeerde mense vertrou? Hoe maak ek dit reg? Hoe voel ek beter? Hoe WORD ek beter?
Dis eers twee dae later toe iemand my vra, “Is jy okei?” wat die sluise oopgaan en ek skielik nie kan ophou huil nie. My hart is seer. Ek voel verraai. Ek voel misbruik, misverstaan, dom – asof niemand my waardeer nie. Seergemaak… Baie, baie seergemaak.