Blog
Mart-Mari Breedt  

Gister was nie ‘n lekker dag nie

Toe my oudste gister in die kar klim na skool, toe deel hy my mee dat hy gisteraand by ‘n skool funksie móét uithelp met die klank — móét nogal.

“Maar jy het swem oefening op Dinsdagaande!” roep ek uit, “Jy kan nie uithelp vanaand nie.”

“Maar ek móét daar uithelp,” antwoord hy geïrriteerd terug, “Ek het reeds gesê ek sal.”

Ek is ‘n ma van vier bedrywige kinders. Ek werk spesiaal halfdag, en word gevolglik vir ‘n halfdag betaal (dis nie asof ek niks opoffer nie), sodat ek hulle by al hulle naskoolse aktiwiteite kan uitkry. Baie dae is besonderlik uitdagend en jaag ek myself werklik kapoet agter hulle aan.

Soos dinge staan sukkel ek alreeds die laaste paar weke om my oudste by sy drie weeklikse swem oefeninge uit te kry. Daar is die hele tyd een of ander verskoning en voor ons ons oë uitvee is dit weer Vrydag en het ons nie by alles uitgekom nie. En swem oefeninge is duur! Ons kry nie afslag vir lesse wat gemis word nie.

“Jy ‘moet’ niks nie,” antwoord ek, ook al geïrriteerd, terug, “Gee my hierdie onderwyser se nommer. Ek sal haar kontak. Iemand moet haar laat weet sodat sy ook haar reëlings vir vanaand in plek kan kry — indien dit nog moontlik is.”

Na ‘n redelike groot bakleiery kry ek uiteindelik vanaf ‘n dikbek tiener wat vies is vir sy onredelike ma en al luidkeels verklaar het dat hy gaan ophou deel wees van die klank span en nooit weer aanbied om iets te doen nie, die onderwyser se nommer.

Ek bel.

Ek stuur ‘n boodskap.

Niks nie…

Ek kry die onderwyser nie in die hande nie.

Intussen staan my seun ongeduldig en rondtrippel in sy fietsry klere, want hy het óók aangebied om die fietsry stalletjie te beman by die skool se ope-dag voordat hy later sou gaan uithelp met die klank.

“Jy gaan nie gaan totdat ek hierdie uitgesorteer het nie,” verklaar ek.

“Maar ma…”

“Niks se ge-maar nie! Dis jý wat soos jou dinges reël. Jy dink jy kan doen net wat jy ook al wil doen en ek moet maar net planne maak. Ek is nou moeg daarvoor. Ek weet nie meer watse planne om te maak nie. Julle neem nooit my tyd en moeite in ag nie. Ek kry nie eers tyd vir my goed nie. Jy sal nie gaan totdat vanaand uitgesorteer is nie,” hou ek voet by stuk. Hierdie keer gaan hy nie wen nie.

Ons wag, maar ons hoor niks nie. Niemand bel terug nie. Ek weier om weer te bel óf om nog ‘n boodskap te stuur. Een keer se bel en boodskap stuur was mos genoeg. Intussen begin ek maar wasgoed uitsorteer en opvou. Ek moes eintlik ook weer ry om my jongste na afloop van haar koor oefening te gaan oplaai, maar in plaas daarvan staan ek en wag vir die juffrou. As ek dan nou moes wag dan kon ek seker maar netsowel produktief wees.

So met die wasgoed se opvou dwaal my gedagtes en ek kry myself sommer baie jammer — ’n kwaai-met-trane-wat-vlak-lê-jammer. Ek dink hoe dit seker weke is sedert ek laas my hare reguit gestryk het. Meeste oggende kry ek nie eers kans om my hare droog te blaas nie. Baie oggende sit ek nie eers meer oorbelle in nie — ek is lief vir oorbelle! My oggende is bedrywig met oefen, kinders en werk. My middae is ‘n dolle gejaag. My aande is gewoonlik gevul met skryfwerk. ‘Nie asof iemand dit in elk geval wil lees nie!’ dink ek terwyl ek terugdink aan van my nuutste skryfwerk wat ek met ‘n vriend gedeel het die afgelope naweek vir terugvoering en dit toe nooit gekry het nie — hy was te besig…

Ek laat val die kous wat ek besig is om om te dop. Ek gaan grawe my haarstrykyster uit die laai, rol sy koord af en druk die prop by die verlenging in. Dis vyf minute voor ek weer in die kar moet wees om my jongste te gaan haal, maar ek gaan nou my hare reguit stryk. Lyk my ek doen nou “Emotional Straightening”.

Dit was seker ‘n simpel, dom en kinderagtige ding om te doen. Dit het my nie eers beter laat voel nie! Boonop het ek dit nog half en gejaagd gedoen, omdat my mamma-hart nie wou toelaat dat ek ’n bietjie laat is nie.

Later die middag, nadat ons die aand se gebeure uitgesorteer kon kry, vervies ek myself weer vir ’n skool vergadering wat ek gesê het ek sal by uithelp. Ek wil nie sommer net by ’n vergadering opdaag indien daar nie gereël was dat ek sal kom nie. Ek wil veral nie by ’n vergadering opdaag waar ek dalk nie gaan welkom wees nie. Teen daai tyd was dit toe nog net bietjie minder as ’n uur voor die vergadering én ook net minder as ’n halfuur voordat ons klub sou gaan saamloop. Ek het die vorige dag al probeer uitvind oor die vergadering. Ek het die oggend wéér daaraan herinner. Ek het genoeg gehad!

Ek stuur ’n boodskap: “Ek het nie van jou gehoor nie. Ek neem aan daar is óf nie gereël vir vanaand nie, óf daar is ongelukkigheid daarmee dat ek daar uithelp. Ek sal nie verder aanbied om te help nie. Ek gaan nou saam met die hardloopklub gaan loop.”

Die loop saam met die hardloopklub het my siel goed gedoen en ons was bederf deur die pragtigste sonsondergang. Terug by die huis het ek wel nog steeds gevoel asof ander net oor my loop of my as vanselfsprekend aanvaar. Ek sug maar diep vir my en my gedagtes.

Gister was nie ’n lekker dag nie en ek weet nie regtig wat ek daaruit geleer het nie. Dalk was dit maar net om so dan en wan vir myself ook op te staan.

My man het darem die res van die wasgoed opgevou.

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>