Die (On)Natuurlike Goed
Ek sê soms vir my hardloop afrigter: “Dit voel vir my asof al die ander hardlopers hierdie hardloop ding heeltemal bemeester het. Hoekom sukkel ek so? Hardloop is dan tog iets wat natuurlik moet wees.”
En sy sal antwoord: “Dis nie waar nie. Almal sukkel! En om goed te kan hardloop is iets wat mens moet leer om te kan doen.”
Met eet het dit ook vir my so gevoel – dalk nou nog… Alhoewel ek ook sal erken dat dit die laaste tyd vir my voel asof ek wel besig is om my ritme te vind.
Daar is baie moeilike goed in my lewe – soos moeilike wiskunde probleme oplos, goeie kode skryf, boeke skryf en kinders se dagboeke balanseer – wat ek sonder veel moeite kan baasraak. Maar gee my iets wat natuurlik moet wees, soos eet en hardloop, en dit lyk my dis daar waar my wa se wiele wankel.