Blog
Mart-Mari Breedt  

Keuses

Ek dink ons almal wil graag gemaklik lewe. Dis egter onmoontlik vir die lewe om altyd gemaklik te wees. Baie keer is die lewe moeilik, seer of uitdagend. Ek koester die dae wat ek wel net rustig kan wees met ‘n boek om te lees en nie veel om te doen nie. Maar sulke dae kan ook nou nie elke dag wees nie – daarvoor sal ek tog wel moeg raak.

Laasjaar toe ek Kaapstad-marathon gehardloop het was daar ‘n oomblik gedurende die laaste drie kilometer wat ons verby ‘n restaurantjie gehardloop het. Op die stoep was ‘n kelner besig om melkskommels te bedien vir ‘n groep mense wat die marathon van daar af dopgehou het.

Met die raaksien hiervan roep ons busdrywer, Zama, uit: “Dit lyk só lekker!”

Waarop ek toe opmerk: “Ja, dit kon ons gewees, maar nee… Hier is ons nou – besig om in ons lewenskeuses se wysheid te twyfel.”

Op daardie oomblik het ons vir my opmerking gelag, maar vanoggend, gedurende my tien kilometer resies, het ek met meer erns weer oor hierdie oomblik nagedink.

My doel vanoggend was om “hard” te hardloop; die resies my alles te gee. Dis ‘n lewenskeuses wat ek gemaak het. Só ook was om vir die resies in te skryf. Of, as ek dit nóg verder wil terugneem: om te begin hardloop. Alles keuses – mý keuses.

Toe ek egter besef dat, ten spyte van my beste poging, ek my doelwit vir vanoggend se resies met ‘n minuut of twee gaan mis, was ek bitter teleurgesteld en het myself vrae begin vra soos: ‘Hoekom doen jy dit aan jouself? Is dit werklik die moeite werd?’

Ek kan seker kies om nie so hard op myself te wees nie. Ek kan seker kies om my doelwitte kleiner te stel en myself teleurstelling te spaar. Ek kan seker baie dinge op baie verskillende maniere kies om sodoende uit te kom by daardie gemaklike lewe waar alles altyd goed is en ek altyd tevrede is. Maar dit is nie wat ek doen nie.

Die harde werklikheid van keuses is dat, alhoewel ons vry is om te kan kies, ons nie vry is van die gevolge van ons keuses nie. Vandag was die gevolg dat ek teleurgesteld was. Maar die ander gevolge, wat dalk tydelik minder sigbaar in die wolk van teleurstelling was, is: insig in waar en hoe ek kan verbeter, ‘n beter verstaan van waartoe ek instaat is wanneer ek myself druk en nuwe dryf om wél eendag by my doelwit uit te kom.

Ja, ek twyfel soms in die wysheid van my lewenskeuses. Maar keer op keer, so met die sukkel en teleurstelling saam, besef ek dat dit juis dié keuses is wat my uit my gemaksone uit forseer, laat groei én laat voluit lewe. En is dit nie oor en oor die moeite werd nie?

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>