Blog
Mart-Mari Breedt  

Gaan die vrees vir weer optel altyd daar wees?

Die week is ‘n week vir moeilike vrae… Maar ek geniet die vrae wat kom ná my boek se lees en die weer dink oor moeilike onderwerpe.

Vraag: Gaan die vrees vir weer optel altyd daar wees? (Die vraag is van ‘n vrou wat self al heelwat gewig verloor het)

Ek was eendag genooi om te gaan praat met ‘n groep vrouens wat borskanker gewen het óf besig was om daarteen te veg. Met my storie se deel het ek ook gepraat oor my lewe nou en hoe ek my beste probeer om nie te lewe soos iemand obsessief oor gewig nie. Een van die vrouens wat kom luister het merk toe op dat sy ‘n soortgelyke probleem het. Sy is al lank in remissie, maar elke keer wanneer sy bietjie siek is of net nie lekker voel die dag nie, dan is haar eerste gedagte: “Die kanker is weer terug!” Sy lewe met die konstante vrees dat sy weer gaan siek word.

Haar vergelyking het my opnuut laat besef dat my situasie geensins uniek is nie en dat ‘n lewe onder konstante vrees nooit ‘n vol lewe kan wees nie. Die vrees gaan altyd by jou kom steel – jou gemoedsrus, vrede en vreugde.

So bietjie meer as ‘n jaar terug het ek besluit om myself op te hou weeg. Dis dus nou al meer as ‘n jaar wat ek glad nie weet wat ek weeg nie. My fokus is om so gesond as moontlik te lewe en na my liggaam te luister. Ek probeer gesonde keuses maak, maar ek is ook nie super streng nie. Ek hou by my hardloop en oefen roetine en ek bly myself aanmoedig om ‘n beter hardloper te word.

Ek is seker daar was baie geleenthede hierdie jaar wat ek opgetel het, maar ek dink ook daar was kere wat ek verloor het. Ek weet egter nie wanneer dit was nie en ek verkies om nie te weet nie. Ek weier dat die getal op die skaal vir my verder gaan voorskryf.

Dalk was om op te hou weeg ‘n simpel ding. Dalk gaan ek myself te veel laat gaan omdat ek nie meer weet wat die skade is nie. Maar deur op te hou luister na die skaal het ek myself vry gemaak. Vir die eerste keer in jare voel ek of ek mag lewe soos ‘n normale mens. Ja, ek kyk nog steeds na wat ek eet en ek maak seker ek oefen, maar daardie goed bind my nie soos wat die skaal het nie.

Ek moes eenvoudig leer om my oordeel en die goeie gewoontes wat ek oor die laaste aantal jare aan gewerk het te vertrou.

So… Gaan die vrees vir weer optel altyd daar wees? Die vrees gaan daar wees solank as wat jy die vrees bly kos gee en toelaat om daar te wees.

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>