Blog Riglyne Rondom Gesond Eet
Mart-Mari Breedt  

Riglyne Rondom Gesond Eet #11

Vitamien C is seker die “gesig” van die vitamiene – die bekendste een. Vitamien C is ‘n water oplosbare vitamien en kom in amper alle vars groente en vrugte voor, maar veral in veselperskes, sitrus vrugte, aarbeie, rooi soetrissies, kruisbloemige groente (kool, brokkoli, blomkool en brusselse spruite), tamaties en aartappels. Omdat vitamien C water oplosbaar is, stoor die liggaam dit nie. Dit moet dus elke dag ingeneem word.

Die bekendste funksies van vitamien C is om die immuunstelsel te ondersteun en siektes te voorkom asook om die liggaam te help herstel. Vitamien C is ook nodig om yster te help absorbeer en jy mag dalk al raakgesien het dat baie yster aanvullings ook vitamien C bevat. Dan is hierdie vitamien ook ‘n kragtige anti-oksidant wat veroudering kan teenwerk.

Hitte kan vitamien C vernietig en dis hoekom dit nie aanbeveel word om groente pap te kook nie, maar eerder vinnig te stoom met min water – omdat vitamien C natuurlik ook na die water sal gaan wat in die drein beland. Ek onthou my huishoudkunde juffrou het gepraat van ons gee al ons water oplosbare vitamiene vir “Jannie Skêr-voet” wat in die drein bly. Die beste manier om die meeste vitamien C absorpsie te verseker is om groente en vrugte vars en rou te eet.

Ek vind dit help om met 100% vitamien C as aanvulling te oordoseer i.g.v. siektes of wanneer die liggaam van iets moet herstel. Volgens my werk dit beslis, maar ek het ook artikels gelees wat reken daar is nie waarde daarin nie.

Nota: Hierdie “Riglyne Rondom Gesond Eet”-reeks het ek beplan om kort maklik-verteerbare brokkies inligting te wees wat dalk selfs met ouer kinders gedeel kan word (dis hoe ek my kinders leer). Indien jy egter wel bietjie meer inligting rondom ‘n onderwerp wil hê, asb laat weet my, dan kyk ek hoe ek dit kan inwerk of jou vraag kan beantwoord.

3d book display image of Eighty Kilos of Shame

Interested in how I lost my emotional weight?

“Once a fattie, always a fattie.” Right? Can you recover from obesity? Is it possible to maintain a weight loss of eighty kilograms?

EXPLORE MY BOOKS AND MORE>>